Ons Storie
Tydens ‘n spesiale Ringsitting, gehou op 20 Januarie 1982, is die afstigting van Durbanville-Bergsig deur die Ring goedgekeur nadat alle motiverende dokumente ter tafel gelê, in behandeling geneem en deur die Ring goedgekeur is.
Die finale afstigting (van Durbanville Moedergemeente) het op die aand van 10 Februarie 1982 tydens ‘n spesiale kerkraadsvergadering plaasgevind.
Intussen het die vergaderings in die skoolsaal van die Voorbereidingskool plaasgevind en het die beplanning vir die bou van ‘n kerksentrum begin.
Op Vrydagaand, 15 November 1985 het die inwyding van die nuwe kerksentrum om 19:00 plaasgevind. Ds. M.R. Heyns was die eerste dominee van die nuutgestigde gemeente.
Die kerkgebou
Van oud tot nuwer
Die storie loop verder 2007 – 2017:
Bergsig dissipels stap al ’n amptelike pad van 1982 af, toe ons van Moedergemeente afgestig het om die nuwe uitbreidings wat gebou is in die sewentiger- en tagtigerjare te bedien. Met die stigting van Durbanville-Bergsig het die Here nog ’n “stad op die berg” tot stand gebring en nog “’n lamp op ’n staander” in die Koeberg-kontrei geplaas. Matt. 5 : 14-16
Ons gemeente het deur baie eras en fases gegaan en saam met die wêreldpas ontwikkel dag-vir-dag. Die destydse slagspreuk van die gemeente: “Wie gered is, is geroep” dui op ’n duidelike ingesteldheid dat as dissipels gaan ons voortdurend saai. Die grond is voorberei soos ons die pad gestap het. Ons is DANKBAAR vir al die gelowiges voor ons wat op die lang pad gesaai het. Party het uitreikprojekte bestuur, party het hulle bure bygestaan en ondersteun, party het DEERNIS getoon aan siekes in die hospitaal, party het seniors by ouetehuise se dae opgevrolik.
As gemeente onderskryf ons steeds ons gereformeerde erfenis en reformatoriese beginsels (skrif-gebondenheid) met RESPEK.
Van 1997 tot 2013 is Bergsig deur ’n transformasieproses, as’t ware die waterskeidingsjare. Mens kan dit amper ’n oorgang noem van ’n ou na ’n nuwe wêreld. Die brug wat gebou is om die nuwe wêreld aan te pak.
In 2005 en 2006 is die visie, missie en slagspreuk van die gemeente herformuleer tot hoe ons dit vandag ken.
Die visie:
“Bergsig verheerlik Jesus Christus, die Lig vir die wêreld.”
Die missie:
Ons is sy Ligdraers wat:
Eensgesind is in geloof en aanbidding
In liefde omsien na die welsyn van ons naaste
Volhard in die uitdra van die Evangelie van Hoop.
Die gemeentelogo is verfyn in 2007 en die slagspreuk wat in 2005 geformuleer is “Sy ligdraers”, word oral gekommunikeer. Dit bring ons terug by 1982 toe nog “’n lamp op ’n staander” gesit is om ’n lig vir die wêreld te wees. Matt 5 : 14-16
Van 2010 tot 2013 is die omgewing waarin ons leef (naby en ver) weer van voor af verken, drywers van verandering en sleutel-kwessies is in berekening gebring. ’n Oorhoofse behoeftebepaling is in die NGK gedoen (kerkspieël), kernwaardes is ontwikkel. Kernwaardes kan omskryf word as spesifieke waardes wat aan ons gemeente ’n raamwerk bied van die manier waarop ons dinge doen binne en buite ons gemeente. Dit dien as riglyne in die proses van gemeentegroei en ontwikkeling en is fundamenteel tot ons visie en missie. Alhoewel individue volgens ’n groot verskeidenheid waardes hul lewens inrig het Bergsig vier kernwaardes geïdentifiseer:
Dankbaar, Deernis, Respek, Diens
Na die Stellenbosch leiers-wegbreek in Aug. 2012 is die scenariobeplanning in Nov. 2012 gedoen en strategiese doelwitte is in Jan. 2013 hersien. Daar is nou een oorhoofse strategiese doelwit:
Dissipels van Jesus is vir die tydperk 2013 – 2015 geïdentifiseer. Die doelwit is tweeledig nl. dissipelskap en nuwe bekeerlinge / redding van mense.
Huidig is ’n volledige proses besig om ontwikkel te word wat hierdie doelwit ondersteun.
Ons is gereed om DIENS te lewer, verder te saai en die oes in te bring. Mag Sy ligdraers die vrug in ander ont-sluit.
Ons gesels met die gemeente deur die Bergsig Boodskap of in gewone taal die “BB”
Sommer vroeg al word daar lekker met die gemeente gesels deur die Bergsig Boodskap – waar jy die nuus kan kry wat kom en wat reeds gebeur het.
Hier deel ons so paar voorblaaie van oor die jare met julle.
Ons vier graag fees
Om meer te lees oor die 35 jarige bestaan van Durbanville-Bergsig Gemeente asook die Durbanville Plaasfees wat deur die kerk aangebied is BB 12 Maart 2017
Maart 2020 word die kerk ook getref deur die pandemie – Covid-19
Die laaste Durbanville Plaasfees (13de) word die Saterdag aangebied voor die president die groot COVID afkondigings gemaak.
Van hier af word alle groot feeste in die land een vir een gekanseleer.
Die kerk verskuif oornag aanlyn en word bedryf vanuit ons huise.
Dienste word aanlyn gestroom met YouTube en mense sit bankvas op Sondae en luister/kyk na die leraar op die skermpie.
Vergaderings is aanlyn gehou met Zoom.
Kinderkerk videos word gemaak om die kinders te bedien.
Later word daar 50 mense toegelaat om kerk by te woon met maskers. Almal moet eers aanlyn bespreek. Mense word ontvang by die kerk met saniteer middel, daaarna teken hulle in en sit dan elke tweede ry, baie vêr versprei van mekaar in die kerk. Dis alles sommer net baie “weird”.
Later raak almal moeg vir die pandemie en meer vernuftig. Kosverkope vind plaas deur kerrie-en-rys vooraf te maak, verpak en net af te merk met die uitdeel – dit dien twee doele – om die gemeente te sien en kontak te maak en fondse in te samel.
‘n Buitelug nagmaal word gehou waar die nagmaal oor die radio in mense se karre uitgesaai word op ‘n spesiale radio frekwensie en die gasvryheid span die wyn en “brood” per kar bedien.
Die Kerssangdiens wind ook buite op die grasperk daardie jaar plaas waar goeie lug ventilasie is.
Om meer te lees oor die feesviering klik hier BB 13-28 Febr 2022
Hier is ‘n kort video oorsig van die gemeente oor die afgelope 40 jaar
Hier kan julle kyk na die oud leraars se feesboodskappe
Die kerk van vandag lyk taamlik anders as die vorige 42 jaar.
Durbanville-Bergsig gemeente is deel van God se Koninkryk – as Sy ligdraers en met genade woeker en werk aan die Binnespoor en aan die Buitespoor.
Ons rig die jeug op om as toekomstige geloofsgenerasies geloof oor te dra aan hul kinders.
Ons loof en prys die Here!
Ons Waardes
Dankbaar
Ek is lief vir God en sy Woord en bid tot Hom
Deernis
Ek wys belangstelling in mense se lief en leed
Ek vertroos en bemoedig mense in krisistye
Ek het ‘n sagte plek vir God se skepping
Ek is nie veroordelend teenoor ander
Diens
Ek leef ruimhartig – ek stel my tyd, gawes, geld en besittings beskikbaar vir God en my medemens
Respek
Ek onderwerp my aan die gesag van God en sy Woord
Ek is beleefd en vriendelik teenoor my medemens
Ek het ‘n oor vir my medemens – ek luister na hom
Ons Werking
In 2021 het die Kerkraad die Legkaart model as struktuur vir Bergsig Gemeente goedgekeur. Daar is baie wisselwerking en deelname tussen verskillende
sirkels en legkaartstukke wat die
LEIERSKAP, BEDIENINGE, LIDMATE, FOKUSPUNTE, TEIKENGROEPE
en meer verteenwoordig.
Visueel beeld ons dit uit as volg:
Teikengroepe
Families | Enkellopendes | Junior Jeug | Senior Jeug | Jong Volwassenes | Vrouens | Mans | Seniors | Kerklos | Kantlyn | Ongered
Ons Span
Kerkraad
Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.
– Matteus 5:14-16