Mosambiek: Evangelisasie
Sedert 1994 is NG Kerk Bergsig, In vennootskap met NG Kerk Helderberg, op verskeie gebiede betrokke in Mosambiek; aanvanklik deur die stuur van Suid-Afrikaanse sendelinge en tans deur ondersteuning en opleiding van pastore in die IRM, Igreja Reformada EM Mocambique (Sinode van die Gereformeerde Kerk in Mosambiek).
an die einde van 2025 met ons Vader se Rigtingaanduiding en Genade het Stellenbosch Moedergemeente volledig toegetree tot die vennootskap.
Namate die IRM volwassenheid bereik het, het die tyd aangebreek om op eie bene te staan. Dit is in 2017 verwesenlik toe die IRM, in samewerking met die vennootskap, vir die eerste keer sy eie pastore na onbereikte Moslem-gebiede in die noordelike provinsies van Mosambiek uitgestuur het.

Die nuwe vennootskap is verantwoordelik vir die salarisse sowel as die bedienings-uitgawes van drie van dié pastore – pastoor Ganhali van Mavago gemeente, pastoor Cezar van Chiconono gemeente en pastoor Isilage van Lichinga gemeente. Hierdie gemeentes word bygestaan om doelmatige kerkgeboue op te rig en te onderhou. Deur gereelde, wedersydse kommunikasie ondersteun die vennootskap die pastore op pastorale en geestelike gebied. Tesame met die uitdaging van werk in die hoofsaaklik Moslem-kultuur, is daar malaria en elke denkbare tropiese siekte wat teengestaan moet word en steier hulle gereeld onder droogtes en jaarlikse siklone. Die rebelle groep, Al-Shabab, wat verwoesting saai aan die Noordkus van Mosambiek beweeg ook soms nader na die Niassa provinsie waar bostaande gemeentes geleë is.
Bergsig is verder ook verantwoordelik vir die salarisse van pastore Goliate, Cincoreis en Adolpho, in die Milange area.
Die bykans 90 Bergsig gemeentelede wat al saam was op ‘n Mosambiek uitreik, getuig van wonderlike geestelike belewenisse tydens besoeke aan die IRM, pastore en hul gemeentes.
Kontak ons gerus en word deel van God se werk in Noord-Mosambiek.
Mosambiek: Makwe
Bergsig ondersteun ook vir André en Anna-Marie Thiart in Quionga, naby die Ruvumarivier, wat die grens is tussen Mosambiek en Tanzanië.
Hulle is die afgelope 20 jaar betrokke by die bediening aan die Makwes – ’n unieke groep van ongeveer 30 000 inwoners in die streek (5 000 in Quionga). André is ook nou betrokke by ondersteuning van die pastore wat deur die IRM uitgestuur is.
’n Kleuterskoolbehoefte is geïdentifiseer as die beste metode van uitreik na die gemeenskap – deur die kinders na die ouers. Moslem-ouers in daardie area het geen probleem om hul kinders na ’n Christenskool te stuur nie.
Bly asseblief bid vir die bedieningswerk wat hier deur André en Anna-Marie gedoen word.
Finansiële ondersteuning is natuurlik ook deurgaans nodig.

Duitsland: Operasie Mobilisasie: Menges-Gesin
Tobias en Sandra Menges woon in Korntal, Duitsland– naby Stuttgart.
Tobias is verantwoordelik vir die opleiding van Duitse sendelinge wat wêreldwyd werk. Sendelinge wat alreeds in die veld is, studeer deeltyds by Columbia International University, Korntal, om sodoende meer effektief in hulle diens te wees. Die kursus gee ’n kans om terug te staan, te reflekteer en nuut toegerus en gemotiveer te word vir dit waarvoor hulle geroep is.

Tobias is betrokke by die konsep-ontwerp, en lei die akademiese afdeling van die Bybelskool. Hy bied ook kursusse aan en begelei die studente in studieprojekte in hulle diens. Na-ure is hy ’n mentor/begeleier vir jonger mans, vlugtelinge en sendingleiers.
Sandra is ‘n interkulturele lewensafrigter en spesialisberader in die hantering van krisisse. Sy begelei sendelinge wêreldwyd om hulle te help om op ‘n emosioneel gesonde plek te bly sodat hulle meer effektief in hulle diens is. Sy lei ook mense wêreldwyd op om soortgelyke werk te kan doen. Hulle het drie volwasse dogters, elkeen met ‘n hart vir die bediening van Jesus se liefde aan mense.
Operasie Mobilisasie het Tobias gesekondeer aan CIU Korntal. Sandra werk deeltyds vir OM en ander organisasies. Durbanville-Bergsig het die voorreg om ook op hierdie manier “… te gaan na alle nasies (Mat. 28:19) … tot aan die uithoeke van die wêreld.” (Hand. 1:8).
Oekraïne: Volodya Brychuk
Bergsig is vanaf 2023 betrokke by pastoor Volodya Brychuk in Rivne, Oekraїne. Hy is getroud met Oksana, en hulle het 2 seuns en 2 dogters.
Volodya is pastoor by ’n Baptiste gemeente in Rivne, ‘n groot dorp in die weste van Oekraïne, en is ook daarmee saam Nasionale Direkteur van Mission Without Borders (wat fokus op die holistiese versorging – geestelik, emosioneel, medies, maatskaplik, materieel – van kinderhuiskinders, asook arm kinders en families in die gemeenskap).

Die oorlog in Oekraine het meegebring dat die helfte van sy gemeente, ook sy eie vrou en dogters met tye, na Pole gevlug het.
Baie families is deur die oorlog van mekaar geskei, baie moes alles agterlaat en te voet vlug. Diegene wat na Poland vlug, beweeg deur Rivne en word deur Volodya en sy gemeentelede emosioneel, geestelik en met kos en voorrade gehelp op hul pad.
Tussendeur fokus Volodya daarop om op allerlei maniere die evangelie aan sy gemeentelede, mense in die gemeenskap, en aan die vlugtelinge te verkondig. Bid asseblief vir hierdie mooi land en sy mense, en diegene soos Volodya wat volhard in hul diensbaarheid en die uitlewing van hul Christenskap in baie moeilike en lewensgevaarlike omstandighede.
Oekraïne: The House of Prayer to all Nations
Koördineerder:
Bertie Smith
La Rochelle Gemeente
The House of Prayer to all Nations is ’n gemeente in Rakhiv, Wes-Oekraïne. Joseph en Olesia Todikash is sedert 2019 die voltydse bedieningspaar by die gemeente.
Joseph het vir ’n hele klompie jare saam met Vadim, wat deur Bergsiggemeente ondersteun is, gewerk totdat hy gereed was om die gemeente oor te neem. Joseph en Olesia het ’n seun, Mark, en dogter, Esther.
Hulle is ook in die proses om die 3-jarige Lukas aan te neem. Lukas se ma was ’n enkelouer en na haar afsterwe is hy wees gelaat. Lukas noem Joseph en Olesia reeds pappa en mamma onderskeidelik. Hulle is baie geliefd in die gemeente en gemeenskap en verrig baie goeie werk.

Bedieningsmodel
Hierdie klein Protestantse gemeente in die middelpunt van Europa funksioneer reeds sedert die middel 1990’s. In diverse godsdiensomstandighede is dit uiters belangrik vir gelowige Christene om hulle getuienis prakties uit te leef by wyse van ’n volgehoue Christelike leefstyl (leefstyl-evangelisasie) om so ’n verskil te maak en ’n bydrae te lewer tot die uitbreiding van God se koninkryk. Bo en behalwe hierdie leefstylbeginsel is daar ook ’n meer gestruktureerde bedieningswyse wat ’n geestelike tuiste bied vir Christengelowiges en nuwe bekeerlinge.
Thailand: (Frontida Outreach) – André en Marina Olivier
André en Marina Olivier is al meer as 10 jaar voltyds werksaam in Thailand. Hulle bedien in Pratchuap Khiri Khan Provinsie wat grens aan die Sentrale en Suidelike streke van Thailand.
Hulle verkondig die Ware Evangelie van Jesus Christus aan onbereikte volke groepe in die Buddistiese geloofsgemeenskappe in hulle provinsie en wyer Thailand. Immoraliteit, prostitusie, mensehandel, afgod’s aanbidding en geen wete of kennis van God is aan die orde van die dag.

Die bediening het al eksponensieel gegroei oor die afgelope meer as 10 jaar en die resultate en getuienisse van Heilige Gees se werking in ‘n donker wêreld is niks anders as gelooflike nuus nie. Hulle staan tans in werksvennootskap met ’Hua Hin Full Gospel Church’ wat ook alreeds 3 ander susterskerke geplant het. Daar word ook uitgereik na ander kerke in die provinsie om interaksie te hê in terme van dissipelmaking om ten einde die kleiner kerkies te help sodat Thai Christen gemeenskappe die ongelowiges meer effektief kan bedien.
André en Marina se bediening bestaan uit:
Aanbied van dissipelmaking opleiding.
Sending uitreike na wyer dele van Pratchuap Khiri Khan Provinsie.
Ondersteuning aksies aan Thai Christene in terme van klein groepe, gebedsbediening, lof en aanbiddings aande, vertalingswerk van Christelike materiaal en barmhartigheid.
Die uitleef van Christen waardes teenoor die onmiddelike gemeenskap, plaaslike rolspelers en gemeenskapleiers.
Hantering van eredienste by verskeie kerke in die provinsie.
Hulle kontakbesonderhede is:
+66 95 048 6080 (Whatsapp)
e-pos: frontidaoutreach@gmail.com
en ook op Facebook – Frontida Outreach
Pos adres:
Chaikao Mountain Home,
100/219 Soi 6, Boh Fai,
Hua Hin Thailand 77110
INcontext International
Lukas 12: 54-56
Jesus het ook vir die skare gesê: “As julle ’n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: ‘Dit gaan reën!’ en dit gebeur ook. 55En as die suidewind waai, sê julle: ‘Dit gaan warm word!’ en dit word warm. 56Huigelaars! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel. Hoe is dit dan dat julle nie weet hoe om hierdie tyd te beoordeel nie?”
INcontext International kyk na wêreldgebeure vanuit ’n Bybelse konteks ter wille van strategiese sendingbetrokkenheid. M.a.w. wat is die Heilige Gees besig om nou in die wêreld te doen en hoe sluit ek aan daarby? As ons wil weet wat ons as gelowiges in hierdie tyd waarin ons leef moet doen, is dit dus belangrik om die tyd te verstaan waarin ons onsself bevind.

Die afgelope dekade het die wêreld drastiese veranderinge ondergaan, soos die oorlog in die Midde-Ooste wat die hele wêreld letterlik op sy kop gedraai het. Dis vanuit ’n wêreldse perspektief ’n tyd van chaos, maar vanuit ’n Bybelse konteks seker die opwindendste tyd wat die Kerk nog gesien het as dit kom by hoeveel Moslems tot bekering kom. Statistieke wys dat daar die afgelope 10 jaar meer Moslems tot bekering gekom het as die vorige 1 500 jaar!
Ons vind ook iets van hierdie geestelike ontwaking in vele Hindoe- en Boeddhistiese lande. Ek onthou hoe ons die kerk in Bhoetan besoek het en daar 75 nuwe kerkleiers in die amp as predikant bevestig is tydens ’n byeenkoms. Almal van hulle was voorheen Boeddhiste of Hindoes en ook selfs priesters in daardie gelowe. Om met ons eie oë te kon sien hoe die eerste generasie gelowiges in Bhoetan te werk gaan om die evangelie te versprei onder die leiding van die Gees, was iets wonderliks. Lande soos Bhoetan wat voorheen totaal gesluit was vir die evangelie, is deur die Gees van God binnegedring met die Bybelse boodskap van hoop en vandag vind jy in daardie lande ’n gesonde kerk ten spyte van die vervolging wat daar plaasvind. Nepal, Bangladesj en Indonesië is net nog voorbeelde hiervan.
Konflik tussen Rusland en Oekraïne, en Israel en Gasa en Iran en Amerika laat dit voorkom asof die Here beheer verloor het, maar ons weet dat die Skrif vir ons sê dat Hy alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. Om dit te verstaan moet ons vra wat die Here van ons in hierdie seisoen verwag. Wie weet hoe hierdie seisoen verder sal ontvou? Die Here sal dit egter gebruik ten einde sy koninkryk nog verder te vestig voor Jesus se koms.
INcontext help graag gelowiges om die seisoen waarin ons leef te identifiseer en te sien watter geleenthede daar is, sodat ons deel kan hê aan die verspreiding van die evangelie, veral onder diegene wat moeilik bereikbaar is met die Woord. Matteus 24:14 sê dan ook: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”