Welgegund Gemeenskap
Welgegund plaas is geleë 12 km buite Durbanville op die Adderley pad. Van Durbanville-Bergsig gemeente se lidmate woon en werk op die plaas. As deel van die NGK se missionale visie en inisiatief om geloofsgemeenskappe te ontwikkel, reik ons uit na hierdie lidmate en ander werknemers op Welgegund.
Vrywillige lidmate van Durbanville-Bergsig gemeente help met die Woord-verkondiging Sondagoggende. Daarbenewens help lidmate van die gemeente ook met die aanbied van Sondagskool lesse vir die skoolkinders. Lidmate by Welgegund word ook uitgenooi om in te skakel by Durbanville-Bergsig se kerkkalender geleenthede.

Daar bestaan ‘n deurlopende behoefte aan meer vrywilligers om aan te sluit by die bediening. Mede-Christene kan help om ‘n verskil te maak in die groter geloofsgemeenskap en help bou aan God se Koninkryk op aarde.
Durbanville-Bergsig lidmate is ook welkom om Eredienste by te woon op Sondagoggende om 09h00 op Welgegund. Kom wees deel van die gemeenskap van die gelowiges en ervaar kerkwees op die plaas.
Spes Bona Kerk/Geloofsgemeenskap
Spes Bona Geloofsgemeenskap is ‘n kerkplantingsinisiatief wat in 2017 tot stand gekom het, met die bediening van Sondagskool vir kinders en het sedertdien gegroei tot ’n volwaardige gemeente met sy eie lidmate en diensleraar.

Die doel van Spes Bona Geloofsgemeenskap is om navolgers van Christus te wees, verhoudinge te bou, ons naaste met liefde en respek te hanteer en ’n verskil in die lewens van ander en ons omgewing te maak.
Die gemeenskap geniet ’n gesamentlike maaltyd een keer per maand na ’n erediens, waartydens ons ontspanne en positiewe interaksie met mekaar en besoekers opbou. Daarom nooi ons almal wat hier lees ook uit om ons te kom besoek en saam met ons ’n maaltyd te geniet.
Gedurende hierdie maaltye word die behoeftes en nood in die gemeenskap gedeel waaraan ons aktief probeer werk om ’n verskil te maak en die gemeenskap se behoeftes aan te pak.
Befondsing vir leierskapkursusse, vrouekampe en jeugaksies, sowel as vakansieprogramme om kinders te ondersteun, word altyd benodig.
Kontak asseblief vir Ds. Nelda indien jy betrokke wil raak of net om ons te kom besoek op ’n Sondag by ons erediens om 10:00.




Attie Van Wyk Laerskool
Die Attie van Wyk Laerskool is ’n landelike skool geleë net buite Durbanville op die M58 (Koebergweg), ongeveer 1km anderkant Diemersdal Wynlandgoed.
Die skool het tans sowat 300 leerders vanaf Graad R tot Graad 7 en sowat 20 personeellede (onderwysers en administratiewe personeel).
Bergsig het ’n lang verbintenis met Attie van Wyk en het al op verskeie maniere die skool ondersteun.

Vrywilligers kan betrokke raak by voorbidding vir die skool, geestelike programme by die skool, groot groepbyeenkomste, vakansieprogramme, fondsinsamelingsinisiatiewe of, selfs instandhoudingswerk op die skoolterrein.
Finansies bly in enige skoolomgewing voortdurend ’n uitdaging en ons vertrou die Here om vir Attie van Wyk te voorsien.
Ons werk voortdurend nou saam met die skoolhoof en personeel en maak seker dat ons hul behoeftes verstaan en hulle effektief ondersteun. Ons nooi u uit om betrokke te raak by Attie van Wyk en deel te neem aan die uitdra van God se liefde in ons omgewing.
House of Grace
Elke kind maak saak. Ons kan nie die verlede verander nie, maar saam kan ons help om die toekoms met hoop te bou.
Sedert 2008 is ons gemeente betrokke by House of Grace wat ’n huis van veiligheid is waar kinders in ‘n liefdevolle, stabiele gesingsomgewing versorg word.
‘n Deel van die fondse wat deur ons Geloofsgelofte-offers (GGO) ingesamel word, word aangewend om die daaglikse uitgawes gedeeltelik te help dek. Deur hierdie ondersteuning kan ons saam ‘n verskil maak in die lewens van kinders wat ‘n tweede kans nodig het.
Tans woon 4 kleuters, 7 skoolgaande kinders en 6 volwassenes in die huis. Dit is ‘n huis waar elke kind behoort, aanvaar word en die geleentheid kry om met waardigheid en liefde groot te word.
Die vrug van hierdie toegewyde versorging is duidelik sigbaar.


Ses kinders het matriek voltooi, ‘n besonderse prestasie wat getuig van die huismoeder se liefde en deursettingsvermoë en onbaatsugtelike sorg. Elke kind word aangemoedig om sy of haar volle potensiaal te bereik en met hoop na die toekoms te kyk.
Ons is dankbaar dat ons gemeente deel kan wees van hierdie mooi verhaal. Elke GGO-bydrae help om maaltye, skoolbenodighede en die daaglikse versorging van hierdie kinders moontlik te maak.
Baie dankie aan elke lidmaat wat deur gebed, belangstelling en GGO offers help om House of Grace ‘n plek van liefde, hoop en nuwe geleenthede te maak.



Betesda-Projek
Die Betesda projek reik uit na persone in ons gemeenskap met een of ander beperking/gestremdheid.
Hierdie beperking kan fisies, emosioneel, intellektueel, geestelik of omstandighede wees.
Finansiële hulp word verleen om ‘n onmiddelike probleem op te los.
Deur hierdie persone se omstandighede en behoeftes te verstaan, is dit moontlik om Jesus se hande en voete te wees vir hulle.
Bykomende fondse vir die projek word verkry deur boekverkopings by die kerk en aanlyn.



Durbanville Beskermingsdienste
Bergsig-gemeente is alreeds vir etlike jare betrokke by die Beskermingsdienste in Durbanville waarvan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Durbanville deel vorm.
Met spesiale geleenthede word daar aflewerings gemaak by die beskermingsdienste in Durbanville.
Sedert 2011 word daar verder ook gereeld ’n vrouedag vir die SAPD-dames gehou. Die bywoning van hierdie geleentheid is baie goed.
Hierdie tipe inisiatiewe versterk die verhouding tussen Bergsig lidmate en die Beskermingsdienste van Durbanville. Dit ondersteun hul in hul taak en skep ‘n gevoel van gemeenskap.
Tydens spesiale geleenthede, soos algemene verkiesings, reik hierdie projek ook uit na beskermingsdienste aan diens met die uitdeel van broodjies om hulle dienslewering gedurende langer as normale diensure ’n bietjie makliker te maak. Die behoefte van hierdie projek is finansiële ondersteuning om die betrokke aksies te kan befonds.




Love Unveiled
Bergsig Koördineerders:
André van der Westhuizen
074 330 4431
Almo Bouwer
082 774 1797
By Love Unveiled poog ons om die sluier te lig in gemeenskappe wat die Liefde en Verlossing van Jesus Christus nie ken nie. Vennootskappe word aangegaan met strategies geplaasde organisasies en individue.
Nuwe gelowiges word begelei en ondersteun en veilige behuising word verskaf indien nodig.
Gebed vorm ’n integrale deel van hierdie bediening. Bid gereeld sodat mense Jesus Christus as hul Verlosser sal ontmoet en wees beskikbaar om die liefde van Christus te deel.

Magdalenahuis Beradingsentrum
Magdalenahuis het op 10 Oktober 2026 gaan Magdalenahuis haar 124ste bestaanjaar vier.
Vele weerlose swanger vroue in nood het deur al die jare bystand, ondersteuning en berading ontvang. Met soveel jare se kundigheid en ervaring slaag Magdalenahuis inderdaad steeds daarin om “met liefde ander te help,” om die emosionele en geestelike leegheid in vele lewens te help vul en letsels effektief te heel. Wat ’n voorreg engeleentheid om midde-in mense se swaarkry daar te wees om hulle te kan dra en ondersteun.
Hierdie program van Badisa vat vroue in krisissituasies se hande en leer hulle om te vlieg! JM Barrie sê: “The reason birds can fly and we can’t is simply that they have faith, for to have faith is to have wings.” Magdalenahuis se program beoog baie méér, naamlik om vroue in die lug te hou en te laat sweef. Magdalenahuis is oortuig dat niemand bestem is om deur die lewe oorweldig te word en tou op te gooi nie en daarom word alle beskikbare metodes aangewend om mense hoop te laat skep en liefde te laat ervaar.

Magdalenahuis se program dra by dat verskeie babas en kinders se lewens ingrypend verander is en word; mammas is gehelp om ingeligte besluite oor hul kinders te neem; daar is kinderlose ouers wat die vreugde kon smaak van ’n aanneembaba; aangenome persone is met hul biologiese ouers en families herenig; gemeenskappe word ingelig oor intimiteit en volwasse keuses rondom seksualiteit.
In September 2014 neem Magdalenahuis dan ook die geloofstap om weens die oorweldigende nood en behoefte aan hulp, die inwoningskomponent om te skakel na ’n
ondersteunings/ontwikkelingsprogram in hoërisiko- gemeenskappe. Die Isiqalo Program (New Beginnings) fokus steeds daarop om weerlose swanger vroue en hul ongebore babas in nood by te staan en te ondersteun. Met dieselfde visie “Uit liefde help ons heelmaak” onderskryf hul die filosofie van die Eerste Duisend Dae, met die uitkoms dat gesonde kinders lei tot ’n gesonde samelewing.
Magdalenahuis Beradingsentrum is oortuig dat die geheim van die lewe is om aan te hou glo en volhardend te hoop. En dit kan net effektief gebeur waar liefde onvoorwaardelik uitgedeel word. Magdalenahuis bly droom van mense se doodlope wat omskep word in snelweë, van kliënte wie se gebrokenheid en verliese omgekeer word omdat die Here-van-Hoop en die Here-van-Liefde wonders doen en mense met verbasing laat oor die ongekende herstel en genesing wat Hy te midde van moeilike omstandighede bewerk.
Spesiale dank aan Bergsig-gemeente wat ook met hul deurlopende finansiële bystand Magdalenahuis in staat stel om volhoubaar ’n verskil te maak in die lewens van weerlose swanger vroue, kinderlose egpare, asook babas en kinders.
Durbanville Kinderhuis
Die Durbanville Kinderhuis (DK), dateer terug na 1883 en is een van die oudste kinderhuise in Suid-Afrika.
As gevind word dat kinders dringend sorg in ’n veilige omgewing benodig, word hulle by ons in die Kinderhuis geplaas – die kinders word almal met ’n hofbevel ingevolge die Wet op Kindersorg verwyder.
Die DK se hooffokus is die sorg, ontwikkeling en rehabilitasie van 144 emosioneel getraumatiseerde kinders deur middel van ’n proses van ingryping en om die kinders met hul families te herenig indien dit moontlik is.

Die DK wil graag hande vat met Bergsig-gemeentelede en so saam verseker dat elke kind ’n gelyke kans gegun word om sy of haar volle potensiaal te bereik.
Die DK benodig vrywilligers wat die kinders met hulle skoolwerk kan help en hulle ook as mentors by te staan.
Deur te kom verf of huisraad te skenk, kan die DK gehelp word om areas te skep wat die kinders sal inspireer om eendag ’n beter lewe vir hulle gesinne te skep.
Die DK verwelkom skenkings van tweedehandse boeke asook klere en snuisterye vir die kinders en die res sal in die DK welsynswinkel en boeke-gang verkoop word om fondse te genereer. Die Kinderhuis kan 18 A-sertifikate uitreik vir skenkings. Besighede word genooi om in die DK projekte te belê.
Die DK borg-’n-kind-projek bied aan omgee-individue en besighede die geleentheid om teen R100 per maand in ’n spesifieke kind se ontwikkeling te belê. U sal terugvoer ontvang van die vordering van die kind wat u borg en so ’n belangrike bydrae tot ’n kind se lewe maak.
In 2025 het ons gemeente die voorreg gehad om huisie no. 12 volledig oor te doen met ‘n deurlopende sokker tema om die seuns wat daar woon te bederf. Nodige herstelwerk is gedoen en die huisie is meer funksioneel ingerig. Die vreugde van die kinders is so groot beloning.
Sentrum van Hoop – MES Durbanville
Die Hulp en Hoop-projek is ’n gemeenskapsprojek, en dit word aangepak in vennootskap met MES, plaaslike gemeentes, besighede en ook die plaaslike buurtwag.
Haweloses se probleme soos drank- en/of dwelmverslawing word getakel. Daar word gepoog om hul weer op te hef om hul plek in die gemeenskap in te neem.

Hierdie projek behels en volg die volgende siklus:
‘Durbanville MES Homeless Support Centre:’ Ses gemeentes, nl. NG Durbanville (“Moedergemeente”), Durbanville-Bergsig, Baptiste, Metodiste, Presbeteriane en die Katolieke verskaf weekliks melk en vrugte gedurende die somermaande en sop gedurende die wintermaande. Die lokaal by 37 Queen Street, wat op die oomblik gebruik word, is deur die stad Kaapstad vir die volgende 10 jaar aan MES beskikbaar gestel.
Ander aanverwante dienste: ’n Koeponstelsel is geïmplementeer. Die publiek kan ’n ‘Mi-Change‘ boekie met 4 koepons teen R50 by hul plaaslike gemeente en sommige besighede soos SPAR aankoop. Besoek gerus www.michange.org om meer hieroor te lees. Die koepon kan dan aan die straatpersoon gegee word in plaas van geld. Die koepon gee die persoon toegang tot ’n gebalanseerde maaltyd, stort, nag skuiling of klere! Geen geld is nodig op straat nie!
MES volg ‘n vier fase benadering naamlik Uitreik en Verligting, Verander Gereedheid, Werkgereedheid en Herintegrasie.
Uitreik en verligting
Toegang tot ondersteuningsdienste.
Sosiale verligting uitreike.
Risiko-assesserings. Verwysings na ontwikkelingspaaie.
Verander gereedheid
Psigososiale ondersteuning.
Verslawing en rehabilitasie ondersteuning gekoppel aan toepaslike akkommodasie.
Werkgereedheid
Ervaringswerkopleiding.
Die ontwikkeling van belangrike kernvaardighede vir werkloses om die arbeidsmark te betree.
Herintegrasie
Indiensneming en onafhanklike lewe sonder beperkings van verslawende patrone. Vaardigheidsontwikkeling.
Ondersteuningstruktuur met inkomstebron
Nuut by MES!
Ons eie Durbanville skuiling! Hier akkommodeer ons 18 mans en 12 vroue. Voorkeur word aan die MES Programgangers gegee en daarna aan die ander in die ry. Die MES ‘Safe Space’ is sewe dae ‘n week oop en registrasie begin om 16h00. Die ’Safe Space’ is by die Durbanville ‘Taxi Rank’. Persone kan toegang verkry deur een ‘Mi-Change Voucher’ of R10 te gee. Alle gaste moet binne die eerste drie dae van hulle verblyf die Maatskaplike werker sien. Daar is ook soms ‘n uitreik geleentheid vir kerk groepe om daar te bedien, gesels, of kos te verskaf.
Hoe kan jy betrokke raak by MES:
Hulle het dertien ’Be More WhatsApp’ groepies. Jy kan kies waar jy op ‘n baie informele manier en net wanneer dit jou pas, betrokke kan raak. Kontak gerus vir Franita Knudsen om meer oor die groepies uit te vind!
Dit is belangrik om nie aan straatmense wat bedel, geld te gee nie, maar dit liewer vir die projek by Bergsig te skenk vir verantwoordelike aanwending daarvan.”
Fisantekraal Centre for Development (FCD)
FCD is ’n, nie-winsgewende vaardigheids opleidingsentrum in Durbanville en Fisantekraal. Sedert 2010 herstel hulle hoop en waardigheid by werklose mense en spesifiek kwesbare gemeenskappe van regoor die Kaapse metropool.

Hulle het ’n holistiese benadering om sodoende nie net die ekonomiese welstand maar ook die emosionele en geestelike welstand van mense te verbeter.
Fisantekraal is ’n gemeenskap in groot nood op die drumpel van Durbanville. Hierdie gemeenskap verteenwoordig ’n vinnig groeiende gebied waar grootskaalse armoede, werkloosheid, onvoldoende behuising, gebrek aan kundigheid en beperkte dienste aan die gemeenskap, aangetref word.
Vir elke werklose persoon in Suid-Afrika wat werk kry, is daar tot 7 ander mense wat op dié inkomste staat maak.
Dit is veral jong volwassenes wat baat vind by FCD se programme aangesien die werkloosheidskoers van jongmense tussen 18 en 35 so hoog as 60% is.
NGK Durbanville-Bergsig het uit die staanspoor ’n belangrike rol gespeel in die
gemeenskapsprojek wat as FCD ontstaan het. Vanaf 2007 het ’n groepie belangstellende lede met verteenwoordigers van verskeie Durbanville kerke besin oor die mees sinvolle benadering vir betrokkenheid in Fisantekraal. Die doel was dat al hoe meer kerke van Durbanville, plaaslike besighede en ander instansies mettertyd sal hande vat en hulle pogings saamsnoer om via hierdie gemeenskapsprojek ’n positiewe verskil in Fisantekraal te maak. FCD het toe in 2010 ’n vaardigheidsontwikkeling-sentrum in Durbanville opgerig en in 2022 n 2de sentrum in Fisantekraal tot stand gebring.
‘n Totaal van 13 vaardigheids kursusse word tans aangebied. Die programme poog om menswaardigheid te herstel en die selfbeeld van kursusgangers te ontwikkel.
Vaardigheids Kursusse sluit in: Job Readiness, Admin & Call Centre Basics, Frail Care, Hospitality&Housekeeping, Childcare, Construction Basics, Craft for Profit, Barista, Bake for Profit, Sew for Profit, Trade for Profit, Beauty&Nails en English with Confidence”. Lewensvaardighede en die evangelie word ingesluit in al die kursusse. Hierdie kursusse sluit almal praktiese werkservaring in en is ’n manier om werksetiek, waardes en die regteingesteldheid te ontwikkel wat nodig is in die werkplek en wat mense in staat sal stel om ekonomies aktief te word en te bly.
Plaaslike besighede en vrywilligers speel ’n baie belangrike rol om die organisasie te versterk en op so ‘n wyse ook die impak te vergroot.
Ons is dankbaar dat ons in die 2025/26 finansiële jaar sowat 463 werkloses en dus families deur ons dienste kon ondersteun.
Nagenoeg 86% studente (8 uit elke 10) het ekonomies aktief geraak gedurende die
oorsigjaar, na voltooiing van hul opleiding by FCD.
Die oogmerk van die sentrum is om voortdurend addisionele vennootskappe te sluit met plaaslike besighede wat kan help met “job shadows” asook werksgeleenthede, mentorskap en befondsing.
Die huidige adresse vir FCD se sentrums is as volg:
Durbanville: Durbanville Town Centre, 48 Queen Street
Fisantekraal: 73, Silvertree Street, Greenville
NGK Durbanville-Bergsig het FCD omarm en as een van sy uitreikvennote geregistreer, waarby die steun en medewerking van belangstellende lidmate saamgesnoer word. Indien u as gemeentelid betrokke wil raak, kontak asseblief vir Jane Gelderman in dié verband by 021 975 7764 of info@fisantekraal.org.za of besoek FCD se webtuiste by www.fisantekraal.org.za.
Huis Aristea
Huis Aristea is ’n program van Badisa, geleë in Queenstraat Durbanville, en bied akkommodasie en sorg aan ouer persone.
Die tehuis het in 1975 sy deure geopen en is ‘n volle 50 jaar oud in 2025. Weens die ouderdom van die geboue, verg dit groot instandhouding wat geweldige druk op die begroting en fondse plaas.
Die tehuis het 140 inwoners waarvan ‘n klein getal selfversorgend is en die meerderheid sorg benodig in ‘n kamer en/of die siekeboeg. Die gemiddelde ouderdom van die inwoners is tans 84 jaar. Drie inwoners is 97 jaar oud. ‘n Geregistreerde verpleegkundige is 24 uur per dag aan diens sodat deurlopende kwaliteit en relevante sorg gelewer kan word.

’n Aantal vrywillige werkers, wat lidmate van Bergsig insluit, is betrokke by praktiese ondersteuning van die inwoners soos hulp met haarversorging, voet- en naelversorging, kreatiewe stimulasie, kultuurprogramme, vervoerdienste, ens.
Losiesgelde verteenwoordig ongeveer 88% van die totale inkomste van Huis Aristea, terwyl staatsubsidies slegs 2,5% van die totale inkomste bedra. Die balans moet verkry word uit ander kleiner bronne soos bv. donasies en fondsinsamelings.
Bergsig ondersteun ook vir Huis Aristea uit GGO-donasies waarvoor hulle baie dankbaar is. Dit word gebruik om inwoners wat slegs ‘n SASSA toelaag ontvang en nie die volle losies kan bekostig nie, te subsidieer.
Huis Aristea verwelkom graag enige ondersteuning. Lidmate is baie welkom om enige tyd die tehuis en sy inwoners te besoek.
Vinkel & Koljander Mark
Die Vinkel & Koljander Mark word jaarliks teen einde Mei / begin Junie oor 5 dae by Durbanville-Bergsig aangebied.
Die primêre doel van die mark is om:
1. Bergsig uitreike ’n geleentheid te bied om hulself aan die gemeenskap bekend te stel en ook fondse te genereer.
2. ’n Geleentheid te bied aan uitstallers, met hoofsaaklik handvervaardigde produkte, om hulle produkte bekend te stel en te verkoop.
3. Bergsig gemeentelede en die Durbanville gemeenskap bymekaar te bring.
4. Enige persoon wat die mark besoek, ’n ervaring van warmte, liefde en omgee te laat ervaar.
5. Persoonlike verhoudinge te bou, met sowel uitstallers as besoekers.

Bergsig Uitreike trek op een van die volgende maniere voordeel uit die mark:
1. Fondse genereer deur hulle eie produk- of kosverkope.
2. Bekendstelling deur middel van ’n bemarkingstalletjie waar die aandag gevestig word op die doel en behoeftes.
3. Uitreike betaal geen uitstalgelde nie en geen kommissie word verhaal uit verkope nie.
Die kommissie wat deur uitstallers betaal word, word deur die markspan aangewend tot die voordeel van gekose uitreike, bedienings, projekte of individue.
Mandaat van die mark:
Om God se Koninkryk uit te brei
Om die gemeenskap te dien
Om Jesus se hande en voete te wees.
Deur:
Dissipelskap
Gasvryheid
Diensbaarheid
Respek – vir besoekers, uitstallers en hul produkte.
Wat is ons behoefte:
Persone wat gewillig is om diens te doen as kassiere, in die saal, of die bediening van eetgoed.
The World Needs a Father
Daar is twee instellings wat deur God tot stand gebring is: die GESIN en die KERK.
Beide hierdie instellings is onder erge aanslag, want die vyand weet dat indien hierdie twee instellings tot ‘n val kom, die hele samelewing sal volg. Gebroke huwelike, stukkende gesinne en die teologiese verwatering van Bybelse waarhede wat in die kerk reg oor die wêreld geleer en aangehang word, is drasties aan die toeneem.
Maleagi 4:6 sê “En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie.”

Hierdie is die laaste teks in die laaste boek van die Ou Testament wat vir ons wys watter premie die Here op die Gesin plaas. Die Nuwe Testament begin ook op hierdie trant. Lukas 1:17 sê: “En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elia, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei.” Maleagi wys dat die God ernstig is dat, indien die harte van die vaders (wat die moeders insluit) nie na God terugdraai nie, ‘n vervloeking gaan volg.
THE WORLD NEEDS A FATHER is ‘n beweging wat manne en hul vroue help om te verstaan hoe ‘n Maleagi 4:6 en ‘n Lukas 1:17 gesin in die praktyk lyk, dink en optree.
Gesonde Godvresende gesinne is voertuie wat deur die Gees van God gebruik word om die samelewing te impakteer, te transformeer en sodoende ‘n atmosfeer te skep wat die seën van die Here in beweging bring. Daardie seën word ontsluit deurdat die pa, sowel as die ma wat sy helper is, onder leiding van die Heilige Gees hul “harte terugdraai na hul kinders.”
Loeriesfontein NGK & VGK
Bergsig het ‘n nood raakgesien in die Loeriesfontein distrik deur gesprekke wat gehou was met Annamaré Visser, oud uitreike-koördineerder van Bergsig.
Daar was besluit om ‘n familie uitreik te doen na Loeriesfontein en sy mense.
So het die eerste een in Julie 2023 plaasgevind.
Die doel van die uitreik was om ‘n vakansie program vir die kinders aan te bied, die bejaardes te besoek, te bid vir die dorp en sy mense, verhoudings te bou en om spanlede bloot te stel aan ‘n korttermyn uitreik.

Dit is ‘n ideale uitreik geleentheid om as familie betrokke te raak want almal kan deelneem aan aktiwiteite as ‘n gesin. Verder is die dorp geleë in ‘n plattelandse omgewing waar dit veilig is vir kinders en jeug om betrokke te wees met kinderprogramme.
Daar bestaan ‘n groot nood by die jong volwassenes en jeug van die NG en VG Kerke.
Die Loeriesfontein mense het baie stories en hou daarvan om hul pad met God te vertel maar soek ook bemoediging en gebed. Die distrik gaan gereeld gebuk onder droogte, en die werkloosheidsyfer is hoog.
Bergsig maak ‘n verskil om deurlopend betrokke te wees in die gemeenskap, deur gebed en ondersteuning. Dit word deur groot omsigtigheid gedoen want die spanlede los “spore” en hoop vir die toekoms.




Msinga: VGK
Die VGK Msinga is in 1984 gestig.
Deur die jare is die gemeente ondersteun deur verskeie NGK gemeentes in die Wes-Kaap, wat elkeen ‘n spesifieke area en geestelike leier ondersteun.
Bergsig reik jaarliks uit na Msinga en ons werk weer saam met die NGK Suidpunt (Struisbaai) wat al baie jare werksaam is in die area. Die kerk dek ‘n groot area in Msinga, maar ons spesifieke fokus is die bediening by Keate’s Drift, wat so 30km noord van Greytown geleë is.

Die doel van die uitreik is onder meer om:
‘n vakansie program vir die jong kinders en tieners aan te bied
die volwasse vroue te bedien deur die fasilitering van ‘n daaglikse vaardigheid werkswinkel
die plaaslike leraar te ondersteun
verhoudings met die gemeenskap te bou en ondersteuning te bied deur onder andere huisbesoeke en klereverkope
herstelwerk en onderhoud te doen waar nodig
die kinders van die kinderhuis te bedien
enige iets anders wat die Here op ons harte plaas terwyl ons daar is

