Om jou belofte te maak en by te dra vir
die Uitreik BUITESPOOR – klik hier
Maak die wêreld ‘n beter plek
Hier is hoe jy kan help: deur ‘n GELOOFSGELOFTE-OFFER VENNOOT te raak. (Mat 5:14 Julle is die lig vir die Wêreld)
Om Bergsig se visie en missie te kan uitleef, is dit nodig dat Bergsig se lidmate hulleself beskikbaar stel om deur Jesus Christus gebruik te word as sy verteenwoordigers en ligdraers oor alle bedieninge in Sy kerk en Koninkryk. Christus wil ons gebruik as Sy hande en voete en as lampe, waardeur Hy wil skyn in ’n donker wêreld, om Sy lig te versprei.
Om uitreik-aksies, wat praktiese naasteliefde en die uitdra van die evangelie verteenwoordig in sy koninkryk, te ondersteun is beskikbare, gewillige, toegeruste, diensbare mense sowel as finansies nodig. Albei hierdie hulpbronne word deur Christus op unieke wyse voorsien.
Bergsig se lidmate is bevoorreg om hande te kan vat en by ’n breë spektrum van geregistreerde uitreikvennootskappe te kan inskakel en dit met hul tyd en finansies te ondersteun. Bo en behalwe vennootskappe “op die voorstoep”, ondersteun die gemeente ook ander vennootskappe “oor die grense heen”. Hierdie GGO-brosjure stel u bekend aan die huidige reeks Bergsig uitreikvennootskappe wat finansiële steun benodig.
Finansies word op verskillende maniere voorsien. Bergsig het meer as 25 jaar gelede gekies om die geloofsgelofte-offer-metode te vestig as die primêre finansiële ondersteunings- en finansieringswyse van die gemeente se uitreikprojekte. Geloofsgelofte-offers (GGO-donasies) is ’n bedrag wat God se kinders aan Hom beloof, bo en behalwe hul normale dankoffer. Hulle betaal die GGO-donasie maandeliks, of by wyse van ’n eenmalige jaarlikse bydrae, as ’n geloofsgelofte-offer. God wil hê dat ons in geloof ’n bedrag aan Hom beloof en Hom dan vertrou om dit vir ons te skenk. Ons belowe en verbind ons in geloof daartoe nog voordat ons daaroor beskik en vertrou God om dit dubbeld en dwars te voorsien uit sy skatkamers. Hierdie fondse word dan aangewend oor ’n wye verskeidenheid aksies waardeur ons help om ’n verskil te maak in die welsyn van ons naaste en die uitdra van die evangelie van hoop.
Bergsig se lidmate het al sedert 1997 die geleentheid om bydraes by wyse van Geloofsgelofte-offers te maak. Ons gebed is dat die donateurs wat reeds jaarliks deelneem met die bydra van hulle geloofsgelofte-offers, daarmee sal voortgaan omdat hulle eerstehands ervaar het hoe God mildelik voorsien en getrou aan ons bly. Ons vertrou dat God ook elke jaar nuwe geloofsgelofte-offerdonateurs sal byvoeg. Daardeur bewys ons dat ons Hom vertrou en verheerlik nog voordat ons oor die fondse beskik.
Indien u dit moeilik vind om die belofte van so ’n geloofsgelofte-offer aan God te maak – begin klein – beloof en gee ’n relatief klein eenmalige of maandelikse bedrag en vertrou God om dit selfs veelvuldig aan u terug te gee. Vermeerder dan jaarliks hierdie geloofsgelofte-offer soos u Hom vertrou, in geloof, om dít en selfs meer te voorsien. Hy sal vir u geloofsgroei laat ervaar terwyl u uself tot sy diens stel. Moenie huiwer omdat u mag dink dat ’n klein bedraggie nie eintlik ’n verskil sal maak nie. Elke rand maak ’n verskil in God se koninkryk. Dié God wat die twee vissies en vyf broodjies vermenigvuldig het, wil ook dit wat ons vir Hom gee, vermenigvuldig. Kom wees deel daarvan en ervaar God se seën!
Lees gerus by die skakel WAT DOEN ONS verder oor die wye verskeidenheid uitreikvennootskappe en instansies wat deur Durbanville-Bergsig finansieel ondersteun word. Bestudeer dit biddend en laat God u lei en oortuig met hoeveel en waartoe Hy wil hê u uself moet verbind en bydra.